SKEPPING

&

Evolusie

- onversoenbaar !

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hennie Mouton

 

 

 

Derde druk

deur

Mills Litho

(021) 593-9160 

Junie 2007


 

Die doel van hierdie boek is

onder andere om Afrikaanse kerke wêreldwyd

na die waarheid van die Bybel te laat terugkeer.

 

 

Ek gaan nie die Bybel probeer waar bewys nie –

ek aanvaar die Bybel is waar

en bespreek talle sterk bevestigings daarvan.

 

 

Die mens wat evolusie met die Bybel probeer versoen kan homself maar die moeite spaar, want dis sinneloos –

tensy hy die definisie van evolusie só afwater

dat die evolusionistiese wetenskaplike dit in elk geval

as ʼn halwe waarheid en daarom as nutteloos gaan beskou.

 

 

Om ʼn oorsprongsmodel daar te stel, is soos om ʼn legkaart te bou.

Maar dis ʼn komplekse legkaart – ʼn driedimensionele een – een wat nooit in hierdie leeftyd heeltemal voltooi gaan wees nie.

Daar is ook nie ʼn volledige prent van die legkaart beskikbaar nie.

Die Bybelgelowige het egter ʼn paar kritieke stukke van die prent

tot sy beskikking – hy hoef dus net volgende stukkies

aan en tussen die vaste gegewens te las.

Maar dis steeds nie maklik nie, want alle gedeeltes van die prent

is nie gegee nie.

Die evolusionis het geen stukkie van ʼn prent of ʼn plan nie –

hy moet en wil alles self uitdink. 

Omdat sy model nie ʼn driedimensionele oplossing het nie,

en baie van sy stukkies nie pas nie,

soek hy plek daarvoor in vierde of vyfde dimensies.

Indien sy skynbare oplossing ingewikkeld en ver genoeg

van die werklikheid verwyderd is,

gaan hy baie ander en dalk homself ook oortuig.

Hierdie boek gee ʼn paar moontlike stukkies

van die driedimensionele legkaart –

hoe goed dit pas moet die leser self oor besin en navors.

Die nuwe skeldnaam onder baie godsdienste is “fundamentalisme”. Skeppingsleer (“kreasionisme” deur meeste genoem) is ʼn gedeelte van noodsaaklike Christelike fundamentalisme en moet nie met verdraaide fundamentalisme (soos byvoorbeeld sigbaar in die aksies van

ekstremistiese Moslems) verwar word nie. 

Die belangrikste verklaring van Christelike fundamentalisme is

die Bybelse gegewe dat Jesus Christus, die Seun van God,

die enigste weg, waarheid en lewe is.

Enige Christen behoort met laasgenoemde verklaring saam te stem –indien nie, behoort hy of sy hom- of haarself af te vra

watter god hy of sy eintlik vereer.

 

 

Enigiemand wat vereis dat God se bestaan bewys moet word,

moet sy eie geloof naamlik dat God nie bestaan nie, ook kan bewys.

Om die nie-bestaan van enigiets te bewys is onmoontlik.

 

 

Humanistiese godsdiens kan ontwikkel en is relatief,

want dit het sy ontstaan in die mens se gedagtes.

Die humanistiese afgod het met tyd gegroei en verander.

Ware godsdiens het nie natuurlik ontwikkel nie

en is absolute waarheid,

want dit is deur die ware God geopenbaar

gedurende die tydperk waarin die Bybel tot stand gekom het.

Die ware God was, is, en sal vir ewig dieselfde wees.

 

 

God se almag en alwetendheid beteken dat Hy nie net vooruit

geweet het dat elke reuse rotsformasie vandag,

duisende jare ná die vloed, sou lyk soos dit lyk nie,

maar dat Hy ook geweet het hoe en waar die kleinste klippie

– gewoon of ongewoon –

wat ek nou tussen duisende ander langs die pad sien lê, sou wees.

Die God van die Bybel is groot – oneindig groot!

Ek hoop elke leser van hierdie boek beleef dit

deur ook rond te kyk na alles in die skepping om ons.

 


 

*********************************************************

 

Jes. 46:9,10 :

 

Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is,

en daar is geen ander nie;

Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;

wat van die begin af verkondig die einde,

en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie;

wat sê:

My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.

 

 

Joh. 1:1-5 :

 

In die begin was die Woord, en die Woord was by God,

en die Woord was God.

Hy was in die begin by God.

Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom

het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

En die lig skyn in die duisternis,

en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

 

 

Opb. 22:16,17 :

 

Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle

voor die gemeentes te betuig.

Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.

En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!

En laat hom wat dors het, kom;

en laat hom wat wil, die water van die lewe neem,

verniet.

 

*********************************************************


INHOUDSOPGAWE

                                                                                                                                                                                                           Bladsy

 

Voorwoord                                                                       10

 

1. Inleiding en toepaslikheid                                   14

1.1   Hoekom is die kwessie van skepping           14

         teenoor evolusie belangrik, veral vandag?  

1.2   Wat is evolusie, of eintlik, wat behoort     18

         dit te wees?

1.3   Is evolusieleerstellinge teenstrydig met       20

    die Bybel?

1.4   Het die wetenskap evolusie en miljarde      25

         jare bewys?

1.5   Kan die wetenskap eenduidig bepaal hoe             29

    die oorsprongsmeganisme was?

1.6   Is die werklikheid van Genesis belangrik             32

        vir die Christelike geloof?

1.7   Is die werklikheid van die Bybel                 34

    belangrik vir die Evangelie?

 

2. Wetenskap, Natuurlike Seleksie en                   38

    genetiese inligting

2.1   Operasionele wetenskap en                                  38

    oorsprongswetenskap

2.2   Die genetiese stoor                                      41

2.3   Natuurlike en gemanipuleerde seleksie       43

2.4   Haldane se dilemma                                    48

2.5   Nuwe genetiese inligting                             49

 

3. Bybelse gegewens                                                     57

3.1   Inleiding                                                      57

3.2   Die Genesisvloed                                        60

3.3   Geslagsregisters en tydsdure                                62

3.4   Die Skeppingsweek                                    68

3.5   Dinosourusse                                              77

3.6   Geen dood voor die sondeval                               83

3.7   Voortplanting volgens soort                                86

3.8   Die ontstaan van Genesis                           87

3.9   Opsommende gevolgtrekkings                    96

 

4. Die uniekheid van die aarde                                  99

4.1 Die aarde se spesiale eienskappe                    99

4.1.1   Regte afstand van die son                               100

4.1.2   Korrekte rotasiespoed van die aarde               101

4.1.3   Korrekte jaarperiode                                        101

4.1.4   Korrekte inklinasiehoek                                   101

4.1.5   Korrekte massa en grootte van die aarde        102

4.1.6   Unieke samestelling van die atmosfeer           103

4.1.7   Korrekte digtheid van die atmosfeer               104

4.1.8   Vereiste hoeveelheid osoon                             104

4.1.9   Regte grootte van die maan                             105

4.1.10 Gelyke oppervlak van die aarde                      105

4.1.11 Magnetiese veld van die aarde                        106

4.1.12 Die aarde – ʼn waterryke planeet                     106

4.1.13 Wonderlike aanvangstoestande en beheer       108

4.2 Die aarde se spesiale posisie                            109

  in die heelal

4.2.1   Ons sonnestelsel se posisie                              109

4.2.2   Die Melkwegstelsel se heeltemal                     110

           unieke posisie

4.3 Gevolgtrekkings                                         126

 

5. Die wêreldwye vloed                                              127

5.1   Sedimentêre gesteentes, fossiele en             127

                 ravyne

5.2   Vloedverhale                                                       136

5.3   Kontinentverskuiwings en die                     137

        Ystydperk

5.4   Bergvorming                                                      142

 

6. Ouderdomme                                                           149

6.1 Die aarde se ouderdom                                                  149

6.1.1   Inleiding                                                          149

6.1.2   Atmosfeer van die aarde                                 149

6.1.3   Sout in die see                                                 151

6.1.4   Magnetiese veld van die aarde                        153

6.1.5   Jong dinosourusse en selakante                       156

6.1.6   Steenkool                                                         163

6.1.7   Grotte, stalagmiete en stalaktiete                    166

6.1.8   Boomringe en yslagies                                     169

6.1.9   Koraalriwwe en kalkformasies                        176

6.1.10 Erosie van kontinente                                      180

6.1.11 Niagara-valle                                                    181

6.1.12 Hoeveelheid mense op aarde                           182

6.1.13 Radiometriese datering en die                        184

           geologiese kolom

6.1.14 Opsommende gevolgtrekkings                       203

6.2 Die heelal se ouderdom                                                  205

6.2.1   Inleiding                                                          205

6.2.2   Die oerknalteorie en sy probleme                    207

6.2.3   Grootte en ouderdom                                                  220

6.2.4   Skeppingsteorieë                                              223

6.2.5   Spiraalsterrestelsels                                          232

6.2.6   Komete                                                            233

6.2.7   Oorblyfsels van supernovas                             237

6.2.8   Sonuitstraling té konstant                                240

6.2.9   Die aarde-maan-afstand                                  241

6.2.10 Die ontstaan van die maan                              242

6.2.11 Te veel oorblywende hitte in die maan            244

6.2.12 Opsommende gevolgtrekkings                        246

 

7. Die wonder van tale en volke                               249

7.1   Noag se kleinseuns                                           249

7.2   Oosterse nasies                                                  251

7.3   Tale                                                                        256

7.4   Oudste beskawings                                         261

7.5   Egiptiese en Israelse kronologieë              263

7.6   Oudste godsdienste                                   270

7.7   Hoe verskillende “velkleure” met                272

  gemeenskaplike voorouers rym

 

8. Ikone van biologiese evolusie                             276

8.1   Wat ingeligte bioloë verswyg                                    276

8.2   Miller-Urey-eksperiment                                 276

8.3   Darwin se boom van die lewe                       282

8.4   Homologie                                                            290

8.5   Haeckel se embrio’s                                          293

8.6   Argeopteriks – die verlore skakel               297

8.7   Peperkleurmotte                                                             303

8.8   Darwin se vinke                                                             308

8.9   Viervlerkvrugtevlieë, antibiotika en           314

        insekdoders

8.10 Evolusie van perde                                           319

8.11 Van aap tot mens                                              323

 


9. Paleo-antropologiese verwarring                      329

9.1   Inleiding                                                       329

9.2   Wetenskaplike bedrog                                 331

9.3   Taung, Lucy en Laetoli                               335

9.4   “Baie ou” moderne Homo sapiens                        340

9.5   Die “hominiedestamboom” en                     344

        evolusiemodelle

9.6   Die Neandertallers                                         359

9.7   Vroeë Homo sapiens                                            369

9.8   Breingrootte, intelligensie en                                   372

        klassifikasie

9.9   Homo erectus                                              374

9.10 Die Genesisvloed en die Ystydperk            383

9.11 Nie-evolusionistiese verklarings vir          384       morfologie

9.12 Homo habilis                                              392

9.13 Australopitheci, Paranthropi en               394

    museums  

9.14 Fossieltabelle                                              399

9.15 Opsommende gevolgtrekkings                    404

 

10. Die doel van die evolusieleer                            408

10.1 Aanhalings                                                           408

10.1.1 Evolusie en die Christelike geloof                   408

10.1.2 Evolusie het ook ’n geloofsbasis                     410

10.1.3 Evolusie is ook op voorveronderstellings        411

           gebaseer

10.1.4 Wetenskaplike waarnemings wat                    413

evolusie ondersteun is baie skaars

10.1.5 Evolusie se verlore skakels bly verlore            415

 

10.1.6 Evolusie dra nie by tot werklike                      419

wetenskap nie

10.2 Doelbewuste onderdrukking                                      421

 

11. Afsluiting                                                                     424

 

Verwysings                                                                       429

 

Die skrywer                                                                               431

 

Naskrif                                                                                                  432

 

Persoonlike bedankings                                                            432

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Voorwoord

 

 

Ek het vantevore twee boeke die lig laat sien, naamlik:

·         ‘Evolusie: die onwetenskaplike leuen’; en

·         ‘Evolution: the unscientific lie’.

Die Engelse boek was grotendeels ʼn vertaling van die Afrikaanse boek, maar met ’n paar byvoegings en enkele korreksies ten opsigte van die Afrikaanse weergawe.

 

Hierdie boek bevat feitlik al die inligting van bogenoemde boeke, maar is aansienlik uitgebreid, bevat sketse en foto’s en gee meer spesifieke verwysings ter wille van makliker naslaan vir die lesers.

 

Die uitgangspunt was om eerder moeilik betwisbare argumente as spekulatiewe, moontlik bevraagtekenbare redenasies te gebruik.  In hierdie opsig het ek my grootliks laat lei, soos ook met bogenoemde boeke, deur die internasionale organisasie AiG (‘Answers in Genesis’, nou ‘Creation Ministries International’) se oordeel wat juis hierdie baie meer konserwatiewe en wetenskaplik verantwoordbare beleid ten opsigte van sy publikasies volg, in vergelyking met sommige ander skeppingsleerorganisasies.  Hiermee ontken ek nie dat my eie waar­nemings en vertolkings ook soms in hierdie boek opgeneem is nie.  Dat húlle nie bevraagtekenbaar is nie kan ek ongelukkig nie waarborg nie. 

 

Die redes vir hierdie publikasie spesifiek in Afrikaans, is die volgende:

·         Heelwat Afrikaanssprekendes het ʼn behoefte daarna uitgespreek omdat die eerste boekie ‘Evolusie: die onwetenskaplike leuen’ uit druk was en ek nie ʼn herdruk oorweeg het nie.  ʼn Herdruk is nie oorweeg nie omdat heelwat nuwe bevindings intussen na vore gekom het waarmee die saak vir skepping net soveel sterker gestel kan word.  ‘n Aansienlike uitbreiding was vir my eerder die antwoord. 

·         AiG in Suid-Afrika het laat blyk dat daar in Suid-Afrika ʼn groter behoefte aan Afrikaanse skeppingsboeke is aangesien goeie oorsese Engelse boeke reeds hier beskikbaar is.

·         Vanweë die meerderheid Afrikaanse kerke se oppervlakkige hantering van die betekenis en implikasie van Genesis, en die evolusieleer wat die afgelope dekade eers in alle erns in Afrikaanse skole verkondig word, het Afrikaanssprekendes oor die algemeen ʼn baie gebrekkige kennis van skeppingsleer en die noodsaaklikheid daarvan.

·         My moedertaal is Afrikaans en ek ondersteun die instandhouding en uitbreiding daarvan ten volle.  (Ek het my bes gedoen om sover moontlik die nuutste reëls van Afrikaans toe te pas, maar ek moet bely dat selfs die 2002, negende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe van  die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls my nog steeds dikwels in die war laat oor wat los en wat vas geskryf behoort te word.  Ek weet nie hoeveel Afrikaans-taalkundiges my boek gaan lees nie, maar ek sou baie graag pleit dat die los- en vasskryfreëls ernstig nagesien moet word om dit drasties te vereenvoudig en te verminder.  Genoemde spelreëlsboek bevat 57 reëls net oor los- en vasskryf.  Dis na my mening eenvoudig te veel.  Hoeveel Afrikaanssprekendes wat oor die algemeen goed kan spel, pas dit toe of ken selfs net helfte van hierdie 57 reëls?  En dan praat ek nie eers van koppeltekens nie.  ’n Ander reël wat ek doelbewus by syfers oortree het is om die desimale punt eerder as die desimale komma te gebruik.)

·         Een van die hoofdoelwitte van hierdie boek is om die Afrikaanse kerke wêreldwyd na die waarheid van die Bybel te laat terugkeer.

 

Hierdie boek is bedoel vir mense:

·         wat onder die indruk verkeer dat evolusie wetenskaplik bewys is; of

·         wat van mening is dat daar ʼn redelike kans is dat evolusie waar kan wees; en/of

·         wat vrae het oor die strydige stellings van die Bybel en die bewerings van sekere velde van die wetenskap; en/of

·         wat dink dat God deur middel van evolusie geskep het; en/of

·         wat al soms gewonder het of daar werklik goeie wetenskaplike waarnemings bestaan wat op ʼn jong aarde en heelal dui, soos wat ʼn direkte lees en verstaan van die Bybel (soos dit geskryf is) verklaar; en/of

·         wat die sienswyse huldig dat Gen. 1 - 11 slegs simboliese betekenis het en wat onder andere wonder wat die simboliese betekenis van die vroeë mense in die geslagsregister se spesifieke hoë ouderdomme kan wees; en/of

·         wat as leraars opgelei is en dit moeilik vind om sinvol en toepaslik uit Gen. 1 - 11 te preek; en/of

·         wat in wetenskaplike en historiese kwessies geïnteresseerd is en dit as ʼn groot voorreg beskou om God se hand en genade in sy wonderbaarlike skepping te sien; en/of

·         wat besef dat skeppings- en oorsprongskwessies ʼn natuurlike aanknopingspunt kan vorm om met wetenskaps- en natuuringestelde mense oor God en die Evangelie van Jesus Christus te gesels; en/of

·         wat die gevaar van die evolusieleer besef en kennis wil bekom om dit te weerlê.

 

Ek verwys dikwels na die “evolusionistiese model” en “evolusioniste”.  Nou is dit so dat alle evolusioniste ook glo aan miljarde jare wat al verloop het sedert wat hulle beskou as die begin.  Daar is egter ook mense wat nie evolusie aanvaar nie, maar wel miljarde jare, en daarom nie in dieselfde groepering as evolusioniste geplaas wil word nie.  Daarom verwys ek ook soms na die “megajaarmodel” en “megakronofiele”.  ’n Megajaarmodel is enige model wat aanvaar dat die oorsprong van alles miljoene of miljarde jare gelede was en megakronofiele kan beskryf word as liefhebbers van miljoene of miljarde jare.

 

Die moeilikheidsgraad in die boek varieer redelik baie.  Vanaf hoërskoolvlak behoort die basiese gegewens egter goed begryp te kan word, alhoewel sommige tegniese detail dalk meer naslaanwerk sal verg.  Opsommings is agterin van die hoofstukke gegee sodat lesers wat nie in al die detail belangstel nie, maklik die oorhoofse strekking van die betrokke hoofstukke kan kry. 

 

Hierdie boek is ook op CD (kompakskyf) in PDF-formaat by Hennie.Mouton@kentron.co.za beskikbaar.  Dit bevat elektroniese skakels wat aangedui word met onderstreping sodat lesers maklik na verwysde gedeeltes kan gaan.  Die onderstreping is ook sigbaar in die papierweergawe.

 

Skeppingsleerders wil nie voorgee dat hulle al die antwoorde op alle vrae ten opsigte van oorspronge het nie.  Daarom beweer ek ook nie dat alles wat in die boek aangebied word, 100% korrek is nie, alhoewel ek my uiterste bes gedoen het om sover my kennis strek, geen onwaarhede weer te gegee het nie.  Ek beweer egter wel dat die groter prent die waarheid is want dis gegrond op wat God in die Bybel geopenbaar het

 

Hierdie boek kan geensins reg laat geskied aan die omvangryke werk wat skeppingsleerders na my mening op feitlik al die relevante velde betreffende spesiale skepping versus evolusie gedoen het en steeds doen nie.  Ek hoop egter dat dit die leser se belangstelling sal prikkel, hom of haar sal sensitiseer en laat waak teen die beginsels van evolusie wat in feitlik alle ensiklopedieë en natuurreekse op televisie per geleentheid as wetenskaplike feite verkondig word (wat dit nie is nie), en bowenal sal lei tot persoonlike groei van die leser se geloof in God, die Alleenskepper van hemel en aarde, en sy onfeilbare Woord. 

1. Inleiding en toepaslikheid

 

 

1.1 Hoekom is die kwessie van skepping teenoor 

      evolusie belangrik, veral vandag?

 

Skepping is ʼn beskrywing en verklaring van die natuur in terme van ʼn skepper en spesifiek die Skepper van Wie ons in die Bybel lees.  Dit is dus ʼn wonderlike heenwysing na God en ʼn bevestiging van sy Woord – die Bybel.  Skeppingsleerders (“creationists”) doen sodanige navorsing in al die tersaaklike wetenskapsvelde, maar met geen eksterne fondse van groot organisasies en regerings nie.

 

Evolusie is ʼn beskrywing van die natuur in terme van natuurlike prosesse alleen en met die doelbewuste uitsluiting van enige skepper – veral die Skepper van die Bybel.  Evolusionistiese navorsing word ruimskoots deur organisasies en regerings befonds en wêreldwyd opgehemel (dalk die verkeerde woord om in hierdie konteks te gebruik) en verkondig.

 

Alle evolusioniste is nie noodwendig ateïste nie, maar baie van die mees invloedryke is.  Heelwat evolusioniste het wel ʼn religieuse geloof, maar soos dit wat Albert Einstein gehad het – die besef dat daar Groot Intelligensie agter alles moes gewees het, of selfs steeds is, maar die ongeloof of weiering om te aanvaar dat Hy die God van die Bybel is.  Let op die volgende aanhaling wat aan Einstein toegeskryf word:

 

Human beings, vegetables, or cosmic dust, we all dance to a mysterious tune, intoned in the distance by an invisible player.

 

Sommige evolusioniste is wel ook Christene, maar hulle kry dit dan skynbaar reg om hul Christelike geloof van die realiteit te ontkoppel, veral betreffende die realiteit van die wetenskap en die geskiedenis van oorspronge.  

 

Die ateïstiese aard van evolusie word deur die volgende aanhalings uitgespel:

·         Een van die wêreldleiers in evolusionistiese Biologie, prof. Richard Lewontin, het die volgende erken:

 

… we are forced by our a priori adherence to material causes to create an apparatus of investigation and a set of concepts that produce material explanations, no matter how counter-intuitive, no matter how mystifying to the uninitiated.  Moreover, that materialism is an absolute, for we cannot allow a Divine Foot in the door.

 

·         Julian Huxley, wie se oupa, Thomas Huxley, as die “bulldog of Darwin” bekend was, het die volgende op Amerikaanse TV beweer:

 

Scientists jumped on Darwin’s ‘The Origin of Species’ because the idea of God was too restrictive to their sexual morals.

 

·         Die evolusionis en selferkende ateïs Richard Bozarth het die volgende skokkende stelling gemaak:

 

Christianity has fought, still fights, and will fight science to the desperate end over evolution, because evolution destroys utterly and finally the very reason Jesus’s life was supposedly made necessary.

Destroy Adam and Eve and the original sin, and in the rubble you will find the sorry remains of the son of god.

Take away the meaning of his death.

If Jesus was not the redeemer that died for our sins, and this is what evolution means, then Christianity is nothing.

 

Evolusie breek die geloof in die waarheid van die Bybel, en daarom ook die geloof in die Skrywer agter die skrywers – God self – af.  Dit is nie net duidelik uit bogenoemde tipe aanhalings nie, maar ook uit hul leerstellings self.  Evolusieleerstellings is baie meer teenstrydig met wat God in die Bybel, veral in Genesis, aan die mens geopenbaar het, as wat meeste mense besef.  Hierop sal ek verder aan heelwat uitbrei.

 

Dit is dus nie vreemd dat mense wat evolusie aanvaar, stelselmatig al minder die Bybel as God se Woord aanvaar nie.  As mens nie die historiese, biologiese en geologiese inligting in die Bybel kan glo nie, hoekom sal mens dan die geestelike boodskap in die Bybel glo? 

 


Dikwels lyk die glyplank na ongeloof soos volg:

·         Eerstens word die werklikheid van die gebeure in Genesis bevraagteken.

·         Volgende word die oorsprong van die sonde en Wie besluit wat sonde is, bevraagteken.

·         Jesus se werklike opstanding word vervolgens bevraagteken.  As die sonde nie ʼn werklike oorsprong het nie – Adam en Eva was volgens hierdie mense net simbolies – hoekom sou iemand werklik moes sterf sodat sondige mense met God versoen kan word?  Die opstanding was ook maar net die verbeeldingstog van ’n paar fanatieke volgelinge van Jesus.  Paulus se verklaring dat die Christelike geloof sonder die werklikheid van die opstanding van Jesus geen betekenis het nie, is ook maar net sy opinie.

·         Laastens lei dit tot ongeloof in die Goddelike aard van Jesus self – Hy was op die beste maar net ’n baie goeie mens wat uiteindelik grotendeels sinneloos gesterf het, buiten vir ’n paar goeie lewensriglyne wat Hy nagelaat het.

 

Charles Templeton, wat in sy jongdae uitsonderlike evangelisering saam met Billy Graham gedoen het, is ʼn tragiese voorbeeld van bogenoemde glyplank na ongeloof:

·         Hy was deel van die massa-evangelisasie-aksies wat in die 1940’s in Amerika begin het.

·         In 1945 was hy ʼn vise-president van die pas gestigte ‘Youth for Christ International’-organisasie.

·         Charles het sy goeie vriend Billy Graham as mede-evangelis vir hierdie nuwe bediening genomineer.

·         Templeton, Graham en ’n paar ander het duisende in Amerika en Europa toegespreek en vir Christus gewen.

·         Templeton is oor die algemeen as die veelsydigste van al hierdie jong evangeliste beskou.

·         Byvoorbeeld in Evansville, Indiana, was die aantal mense wat Templeton se boodskappe in slegs twee weke bygewoon het, 91 000 uit ʼn totaal van 128 000 mense.

·         Kerkbywoning het in daardie tyd met 17% daar toegeneem. 

·         Maar toe, tydens sy studies aan die Princeton Theological Seminary, begin Templeton om Genesis se werklike historisiteit te bevraagteken.

·         Tydens ʼn gesprek met Billy Graham sê hy:

 

But Billy, it’s simply not possible any longer to believe, for instance, the biblical account of creation.  The world wasn’t created over a period of days a few thousand years ago; it has evolved over millions of years.  It’s not a matter of speculation; it’s demonstrable fact.

 

·         Na graduering by Princeton, aanvaar Templeton ’n pos in die National Council of Churches, en lewer hy preke dwarsoor die VSA en Kanada.

·         Maar die vraag: “Is die Bybel heeltemal waar”, gegrond op uitsprake van die evolusionistiese wetenskap, saai soveel twyfel by Templeton dat hy siektetoestande begin kry – so terloops, Charles Darwin het dieselfde psigomatiese siektes in sy leeftyd ontwikkel.

·         Uiteindelik het sy twyfel so erg geword, dat Templeton die bediening heeltemal verlaat het.

·         En hy bring die outobiografie uit: ‘Farewell to God: My reasons for rejecting the Christian faith’.

·         In sy boek word al sy redes uitgespel – dit is almal evolusionisties wetenskaplike besware teen gegewens soos gegee in Genesis.

 

[‘Slippery slide to unbelief’, Creation 22(3), 2000]

 

En nou wil ek dit baie duidelik benadruk dat skeppingsleerders al Templeton se vrae met goedgefundeerde wetenskaplike beredenering kon beantwoord.  Dit is tragies dat meeste kweekskole (ook in Suid-Afrika) nie wil of kan besef dat daar baie goeie wetenskaplike argumente bestaan wat klop met die direkte verstaan van die Bybelse gegewens nie.  Baie nie-wetenskaplikes (en teoloë) dink dat as daar beweer word dat die wetenskap iets aangetoon het, dit evangelie is.  Dit is hoegenaamd nie so nie – die wetenskap is nie in staat om ʼn eenduidige antwoord oor die verlede en oorspronge te gee nie.  Slegs die Evangelie is evangelie.  ʼn Evolusionistiese oorsprongsmodel is maar een wetenskaplike poging om die gegewens te interpreteer. 

 

Wat ʼn verskil kon dit nie gemaak het as die Princeton Seminary die waarheid van die Bybel vooropgestel het, en nie die Bybel op grond van foutiewe, veranderende wetenskap probeer herinterpreteer het nie.  Vandag verkondig die Princeton Theological Seminary die valse “New Age”-doktrine. 

 

Charles Templeton is intussen oorlede, sonder enige aanduiding dat hy ooit ware geloof gevind het. 

 

Die “Nuwe Hervormers” in Suid-Afrika, waarvan baie hoogs-gekwalifiseerde, en dikwels aangename mense is, is redelik duidelik op hierdie selfde fatale dwaalspoor.  Ongelukkig aanvaar heelwat pre-dikante sommige van hulle idees sonder om te besef wat hulle besig is om te omarm. 

 

Evolusie kan dodelik gevaarlik wees – Templeton het dit tragies geïllustreer.  In Suid-Afrika word dit al hoe meer in skole en vir baie jare al by universiteite verkondig.  Christene sal verkieslik ʼn paar antwoorde in die Skepping versus evolusiekwessie moet ken, of tenminste mense na goeie boeke of byvoorbeeld geskikte internetwebwerwe kan verwys.  Daarsonder sal onwaar wetenskaplike vertolkings baie mense die geleentheid ontneem om ooit die ware Christelike geloof te bekom.

 

 

1.2 Wat is evolusie, of eintlik, wat behoort dit te

wees?

 

In wese is evolusie baie meer as die populêre vereenvoudiging dat die mens van ʼn aap afstam.  Eintlik glo professionele evolusioniste nie dat die mens van enige bekende aap afstam nie, maar wel dat die mens en alle ape ʼn gemeenskaplike voorganger gehad het, wat dalk nog net nie ontdek is nie.  Hierdie is nog een van evolusie se verlore skakels en klaarblyklik hoe verder evolusie “vorder”, hoe meer word die verlore skakels.  Meer hieroor later.

 

Evolusie is in beginsel die teorie dat, deur natuurlike prosesse alleen, die volgende veranderings oor miljarde jare plaasgevind het:

·         Dooie materie het in die eerste lewende sel verander (alhoewel niemand ʼn realistiese idee het hoe dit deur natuurlike prosesse sou gebeur het nie).

·         Eensellige organismes het in meersellige organismes verander.

·         Eenvoudige organismes het in komplekse organismes verander.

·         Uiteindelik het al komplekser organismes tot stand gekom, onder andere ook die mens.

 

Hierdie soort verandering oor lang tye:

·         van muggie tot mens; of

·         van partikel tot professor;

vra uiteraard dat genetiese inligting geweldig moes vermeerder het. 

 

Die mens se genetiese inligting, soos in sy DNS-molekule vervat, is baie meer as die genetiese inligting wat in die DNS-molekule van ’n muggie vervat is.  Beide se genetiese inligting moet weer baie meer wees as dié van hulle gemeenskaplike voorganger, wat dit ook al sou gewees het.  Evolusie vereis dus ʼn natuurlike proses wat genetiese inligting vermeerder.

 

Natuurlike Seleksie word dikwels voorgehou as ’n proses wat evolusie demonstreer.  Dit is hoegenaamd nie so nie.  Natuurlike Seleksie as sulks is waarskynlik waar en skeppingsleerders het nie probleme om dit te glo nie, maar daar bestaan geen voorbeeld van Natuurlike Seleksie wat genetiese inligting laat vermeerder het nie. 

 

Die bekende evolusionis prof. Richard Dawkins, wat die taak in Engeland gehad het om die publiek se begrip van die wetenskap te bevorder, kon vir 20 s lank nie ʼn sinvolle woord uitkry toe sodanige voorbeeld van hom tydens ʼn TV-opname gevra is nie.  Hy het wel deur ʼn paar skakerings van rooi gegaan en sy mond het ʼn keer of wat oop- en toegegaan, maar geen voorbeeld het oor sy lippe gekom nie.  Agterna is hy gevra om skriftelik voorbeelde te lys, en hy het ʼn drie bladsye antwoord verskaf met allerlei teoretiese voorstelle, maar hy kon steeds geen praktiese voorbeeld noem van selfs net een geval waar genetiese inligting deur Natuurlike Seleksie vermeerder is nie.

 

Alle moontlike voorbeelde van Natuurlike Seleksie, soos byvoorbeeld die Ysbeer en die Bruinbeer, wat waarskynlik ʼn gemeenskaplike voorganger het (ook ʼn beer), is illustrasies van vermindering in genetiese inligting of in enkele bekende gevalle, geen verandering in genetiese inligting nie, waar inligting slegs na ʼn ander posisie in die genoom geskuif het (kyk 2.3).  Die oorspronklike beersoort het genoeg genetiese inligting bevat dat al die verskillende gespesialiseerde soorte daaruit kon ontwikkel.  Laasgenoemde stelling volg heeltemal geredelik deur natuurlike en gemanipuleerde seleksie te vergelyk.

 

Gemanipuleerde seleksie, soos byvoorbeeld die teel van verskillende honderasse, spel maar presies die beperkings van Natuurlike Seleksie uit:

·         Verandering is slegs moontlik binne die soort – elke hond se kleintjie tydens honderde jare van teling was maar altyd net weer ’n hond.

·         Genetiese inligting het daardeur verminder – deur slegs Worshonde met mekaar te kruis gaan ’n Sint Bernard nie eendag, maak nie saak hoeveel geslagte later nie, te voorskyn kom nie.  Die Worshond se DNS-molekule het net nie meer die inligting om ’n groot hond te verwek nie – slegs lang, lae, plat honde.

 

Mikro-evolusie word deur sommige gedefinieer as verandering binne ’n spesie.  Mikro-devolusie is eintlik die regte woord omdat ook dit die teenoorgestelde van evolusie is, want die genetiese inligting word daardeur verminder.  Die leuen rondom mikro-evolusie is dat dit klein stappies van makro-evolusie is en daarom evolusie in die kleine voorstel.  As mens verstaan dat dit eintlik mikro-devolusie is, is die ongeldigheid van die argument voor die hand liggend.

 

[TJ 17(2), 2003, bl. 68]

[‘TJ’ is die tegniese joernaal van AiG]

 

 

1.3 Is evolusieleerstellinge teenstrydig met die  

      Bybel?

 

Dit is sonder twyfel teenstrydig met die Bybel.  Daarom het God nie evolusie of miljoene jare gebruik om te skep nie, alhoewel Hy kon as Hy wou, maar Hy hét nie, want Hy sê so in sy Woord – die Bybel.

 

Volgens die Bybel is dood die gevolg van die mens se sondeval:

Gen. 3:17 : Vir die mens het die Here God gesê: Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; …

Rom. 5:12 : Verder nog dit: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, …

 

Daar was dus geen dood (ook nie van diere nie – ’n goeie indirekte afleiding gebaseer op al die toepaslike inligting in die Bybel – kyk 3.6) voor Adam en Eva se sondeval nie.  Die fossielrekord kan dus nie duisende dooie diere, dinosourusse ensovoorts oplewer wat voor Adam se tyd geleef en gesterf het nie.  Indien dit so lyk, is die tydsvertolking van die (evolusionistiese) wetenskap verkeerd.

 

Evolusie leer die teenoorgestelde:

·         Die sterkere het die swakkere oorwin en uitgeroei en sodoende ontwikkeling van eenvoudige tot komplekse organismes (diere, mense ingesluit) laat plaasvind.

·         Die mens is ná miljoene jare die produk van dood op dood op dood op dood.  Dit is ’n wrede, uitgerekte en ondoeltreffende manier om nuwe soorte tot gevolg te hê.  Dit is 100% teenstrydig met die Bybel wat sê dat God in die begin alles “goed” geskep het en dood eers ná die verskyning van die eerste mense gekom het.

 

Volgens die Bybel het God alle fisiese dinge en wesens in een week geskep – die Skeppingsweek:

·         Daar is geen Bybelse rede om te dink dat die dae van die Skeppingsweek enigiets anders as 24 uur dae was nie.  Hervertolking van die Bybel om die skeppingsdae ander tydperke te laat beteken, het eers begin gebeur toe sommige Christelike kerke begin dink het dat die wetenskap miljoene jare bewys het.

·         Die Here bevestig dat gewone dagtydperke bedoel is deur weer in die Tien Gebooie daarna te verwys:

 

Eks. 20:11 : Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin.  Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag ingestel en dit geheilig.

 

Die Israeliete moes ses gewone dae werk en een gewone dag rus – geen ander tydperk as ’n 24 uur een is bedoel nie.  Hulle moes byvoorbeeld nie vir 6 duisend of 6 miljoen jaar werk en 1 duisend of 1 miljoen jaar daarna rus nie. 

·         Heelwat meer redes om te glo dat die Skeppingsweek ’n werklike week was, word gegee in hoofstuk 3, seksie 3.4.

 

Evolusioniste en megakronofiele glo dat alles tot stand gekom het oor ongeveer 15 miljard jaar betreffende die heelal en 4.5 miljard jaar betreffende die aarde. 

( 1 miljard = 1 duisendmiljoen = 1×109

1 miljoenmiljoen = 1 biljoen = 1×1012 )

Hierdie tydperke het ook maar dramaties gegroei sedert die idee van evolusie posgevat het, en is in der waarheid steeds hopeloos te kort om alles deur toeval tot stand te bring, soos talle voorbeelde met kansrekening al uitgewys het.  Die kans om maar net ’n DNS-molekule deur toeval te kry vereis alreeds ordes langer tydperke as die 4.5 miljard jaar.

 

Volgens die ouderdomme van die eerste mense in die Bybel, die geslagsregisters en die tydperke tussen sekere latere gebeure, kan redelik maklik afgelei word dat die Skeppingsweek ongeveer 4 000 jaar voor Christus se koms na die aarde was.  Die Christelike kerk het sedert sy ontstaan dit so aanvaar, asook die werklike weeklange tydperk van die Skeppingsweek, totdat sommige Christelike kerke begin glo het dat die wetenskap miljarde jare bewys het en die Bybel dus hervertolk moes word.  Dit bevestig ook maar dat die herinterpretasies niks te doene het met wat die oorspronklike Hebreeus beteken nie, maar wel alles te doen het met die geloof in die evolusionistiese wetenskap se uitsprake.

 

Die Bybel stippel die skeppingsvolgorde soos volg uit:

·         dag 1: aarde, ruimte, tyd en lig (ruimte en tyd is op redelike afleidings gebaseer);

·         dag 2: atmosfeer (’n redelike afleiding om te maak, anders sou die plante nie die volgende dag kon uitspruit nie);

·         dag 3: droë grond, see en plante;

·         dag 4: son, maan, sterre en planete;

·         dag 5: vlieënde kreature (onder andere voëls) en seekreature (onder andere visse);

·         dag 6: landkreature (onder andere landdiere) en die mens.

 

Evolusie se ontstaansvolgorde is heeltemal verskillend van wat die Bybel sê:

·         Die sterre en die son het voor die aarde ontstaan.  Volgens die Bybel was die aarde daar voor enige hemelliggame.

·         Visse het voor landplante verskyn.  Die Bybelse volgorde is andersom.

·         Eers was daar seekreature (visse), daarna reptiele (landkreature) en daarna vlieënde kreature (voëls).  In die Bybel word verklaar dat vlieënde en seekreature voor die landkreature geskep is sodat dit glad nie ruimte laat vir vlieënde kreature om via landkreature vanaf seekreature te kon ontwikkel het nie.

·         Mense wat dus beweer dat die Bybelse en evolusievolgorde redelik ooreenstem, ken een of albei van die volgordes nie baie goed nie.

 

Volgens die Bybel het God verskillende soorte geskep om voort te plant volgens hulle soort.

 

Die evolusiedoktrine se verwagting is dat een soort ’n ander soort kan voortbring, en dit moes keer op keer op keer op keer gebeur het, regdeur die hele spektrum van eenvoudige tot komplekse organismes (van partikel tot professor).  Ook hierdie essensiële evolusionistiese vereiste is heeltemal teenstrydig met die Bybelse gegewens wat verklaar dat alle basiese soorte reg in die begin geskep is en volgens hul eie soorte sou voortplant.

 

So terloops, indien alles so geëvolueer het, van eenvoudig na kompleks, van een organisme na die volgende, behoort daar miljoene oorgangskakels te wees.  Sedimentêre rotse behoort totaal met oorgangsfossiele beset te wees.  Waar is hulle?  Die verlore skakels is dus baie meer as wat meeste mense besef.  Al wat evolusioniste tot dusver as oorgangskakels kon aanbied, is maar enkele voorbeelde (byvoorbeeld Argeopteriks – kyk 8.6) en selfs hulle is omstrede en twyfelagtig. 

 

Volgens die Bybel het ’n wêreldwye vloed alle mense en diere uitgewis behalwe vir enkeles wat op Noag se ark oorleef het.

 

Evolusioniste aanvaar nie Noag se ark en die behoud van lewe daarop nie.  Hulle kan ook nie die uitwissing van alle mense en diere aanvaar nie, om die volgende redes:

·         Volgens hulle het die mens eers baie miljoene jare ná die ontstaan van lewe en dus redelik onlangs volgens hul tydskale op die toneel verskyn.

·         Alle diere en mense sou dus van voor af weer deur evolusie tot stand moes gekom het.

·         Dié tydperk is selfs vir die evolusionis ver te kort om al die miljoene toevallighede wat deur evolusie vereis word, te laat gebeur.

 

Die wêreldwye vloed soos in die Bybel beskryf weerspreek dus ook die evolusiedoktrine.

 

Die Bybel openbaar God as die Skepper van die hemel, die aarde en alles wat bestaan.  God stuur en onderhou alles – niks kan gebeur as Hy dit nie toelaat nie.  Tydens die Skeppingsweek het God alles doelbewus so beplan dat die kroon van sy skepping – die mens – op die laaste skeppingsdag geskep is.

 

Neo-Darwinisme verklaar onomwonde dat alles deur evolusie ontstaan het, dat evolusie doelloos is en nie aan enige vooropgestelde plan voldoen nie en dat die mens daarom maar net nog een van die toevallige gebeurtenisse in die evolusieproses is. 

 

George Gaylord Simpson het geskryf:

 

Man is the result of a purposeless and natural process that did not have him in mind.

 

Jacques Monod het verklaar:

 

... and man has to understand that he is a mere accident.

 

Die Bybel en Neo-Darwinisme is duidelik ook heeltemal onversoenbaar betreffende hierdie kwessie.

 

 

1.4 Het die wetenskap evolusie en miljarde jare

      bewys?

 

Die wetenskap het evolusie en miljarde jare hoegenaamd nie bewys nie, al klink dit so volgens feitlik alle TV-natuurprogramme, ensiklopedieë en meeste teksboeke.  Die leser wat hierdie stelling op hierdie stadium nie glo nie – hou gerus aan met lees.

 

Eenmalige gebeurtenisse van die verlede kan nie wetenskaplik bewys word nie, veral nie as dit nie herhaal kan word nie. Daarom kan die skeppingsleerder nie wetenskaplik bewys dat God geskep het soos Hy in sy Woord geopenbaar het nie – dit word in die geloof aanvaar.  Eweneens kan die evolusionis ook nie bewys dat daar nie ’n God is nie, of dat alles deur natuurlike prosesse tot stand gekom het nie – dit is sy geloof.

 

’n Mens sal natuurlik wil hê dat die wetenskaplike inligting (nie noodwendig andersdenkendes se vertolking daarvan nie) jou geloof moet ondersteun.  Persoonlik is juis dit vir my ’n baie bevredigende aspek van my betrokkenheid en belangstelling in die skeppings-wetenskap.

 

Daarteenoor sit evolusioniste dikwels met hul geloof wat nie deur die wetenskaplike inligting ondersteun word nie, en wat ongelooflike kreatiewe interpretasies vereis, soos onder andere uit prof. Richard Lewontin se aanhaling blyk:

 

We take the side of science in spite of the patent absurdity of some of its constructs, in spite of its failure to fulfil many of its extravagant promises of health and life, in spite of the tolerance of the scientific community for unsubstantiated just-so stories, because we have a prior commitment, a commitment to materialism.  It is not that the methods and institutions of science somehow compel us to accept a material explanation of the phenomenal world, but, on the contrary, that we are forced by our a priori adherence to material causes to create an apparatus of investigation and a set of concepts that produce material explanations, no matter how counter-intuitive, no matter how mystifying to the uninitiated.  Moreover, that materialism is an absolute, for we cannot allow a Divine Foot in the door.

 

’n Billiker vraag sou wees of evolusie dalk op ’n juridiese wyse bewys kan word.  Met ander woorde, is daar genoeg getuienis (soos in ’n hof) dat die waarheid daarvan redelikerwys aanvaar kan word?  Volgens die Berkeley-regsgeleerde, prof. Phillip E. Johnson, in sy boek ‘Darwin on Trial’ is die antwoord definitief “nee”.  Die getuienis is totaal onvoldoende.  In der waarheid noem Johnson die getuienis nie net onvoldoende nie – in sommige gevalle noem hy dit verdraaide getuienis:

 

When our leading scientists have to resort to the sort of distortion that would land a stock promoter in jail, you know they are in trouble.

 

Ek probeer nie met die vorige opmerkings sê dat alle evolusioniste doelbewus oneerlik is nie.  Voorveronderstellings speel ’n kardinale rol by die vertolking van wetenskaplike data.  Beide die skeppingsleerder en die evolusionis het voorveronderstellings – ’n raamwerk waarmee hy na wetenskaplike data kyk en dit dan interpreteer.  Ongelukkig kan die gevolgtrekkings dan heeltemal verskil, veral as meer as een antwoord moontlik is en veral as die een kant se voorveronderstellings sodanig is dat dit alreeds vooraf die ander se moontlike gevolgtrekkings uitsluit. 

 

Die evolusionis Stephen Jay Gould, professor in Geologie en Paleontologie van die University of Harvard, het dit soos volg gestel in sy boek ‘Ever since Darwin’:

 

Facts do not ‘speak for themselves’; they are read in the light of theory.  Creative thought, in science as much as in the arts, is the motor of changing opinion.  Science is a quintessentially human activity, not a mechanized, robot-like accumulation of objective information, leading by laws of logic to inescapable interpretation.

[ ‘The validation of continental drift’ in sy boek ‘Ever since Darwin’,

Burnett Books, 1978, bl. 161-162]

 

As die evolusionis byvoorbeeld vooraf per definisie besluit het dat geen skepper of ontwerper deel van die gevolgtrekking kan wees nie, gaan hy nooit eers ’n antwoord oorweeg wat na ’n skepper (of Skepper) verwys nie, maak nie saak hoe sterk die getuienis daarvoor is nie.  Die godsdienstige evolusionis se standpunt is gewoonlik dat wetenskap en godsdiens geskei moet word – dit is heeltemal aparte terreine (die evolusionis se moderne weergawe van apartheid?).  Die skeppings-leerder kan hoegenaamd nie daarmee saamgaan nie – die God van die Bybel wat hy aanbid en dien is God van alles – definitief ook van die wetenskap, wat maar net nóg een van sy wonderbaarlike skeppings is.

 

’n Baie praktiese voorbeeld van verskillende interpretasies is die Grand Canyon in Amerika.  Dieselfde wetenskaplike data of inligting – in die geval die Grand Canyon – is vir beide die evolusionis en die skeppingsleerder beskikbaar.  So terloops, die konflik gaan nooit oor die data nie, maar wel oor die interpretasie daarvan. 

 

Die skeppingsleerder kyk daarna:

·         Hy sien fantastiese getuienis vir ’n massiewe watervloed in die verlede – na alle waarskynlikheid die Genesisvloed, gegrond op sy voorveronderstelling dat die Bybel waar is en werklikheid beskryf.

·         Hy sien duisende modderlae wat later versteen het om sedimentêre rots te vorm.

·         Hy bemerk dat daar feitlik geen erosie tussen rotslae is nie wat beteken dat al die lae baie vinnig opmekaar gevorm het.

·         Hy beskou die Kaibab-welwing (opheffing) as ’n reuse meer se wal wat êrens tydens die Genesisvloed deurgebreek en in ’n baie kort tyd die ravyn (“canyon”) gevorm het.  Dit het waarskynlik in enkele dae gevorm omdat die modderlae wat van die vloed afkomstig was en afdraand van die meer gelê het, steeds baie sag was en daarom baie vinnig deur die water van die oorstromende meer weggevreet is.

·         Die materiaal wat uit die ravyn weggevoer is, lê vandag in die woestyne versprei na die westekant van waar die Grand Canyon eindig.  Daar is heeltemal te min materiaal in die Stille Oseaan waar die Colorado-rivier, wat vandag in die Grand Canyon vloei, uitmond om die omvang van hierdie ravyn te verklaar.  Al die materiaal is dus nie bietjie vir bietjie deur die Colorado-rivier afgevoer nie.

 

Die evolusionis en megakronofiel kyk na dieselfde Grand Canyon en neem heeltemal ander dinge waar:

·         Hy sien getuienis vir miljarde jare van ravynvorming, gegrond op sy voorveronderstelling van gelykvormigheid (alles het gemiddeldgesproke in die verlede gebeur soos vandag, met ander woorde, dieselfde prosesse en tempo’s).  Die Colorado-rivier vreet die Grand Canyon vandag al dieper teen ’n baie stadige tempo en moes dus miljarde jare geneem het om so ’n geweldige ravyn te gevorm het.

·         Hy sien getuienis vir miljarde jare van rotsvorming, want hy glo sedimentêre rots het lagie vir lagie gevorm, sommige lagies slegs mikrons dik (1 mikron = 1 μm = 1×10-6 m) en tipies slegs enkele lagies per jaar.  Verder het erosie baie lae weer weggevoer, sodat die hele geologiese kolom selfs nog baie ouer is (miljoene jare is verlore) as wat gevind sou word deur die aantal fynlagies in die Grand Canyon (of by enige ander vergelykbare plek op aarde) te tel. 

·         Die feit dat dit hoogs onwaarskynlik is dat hele rotsbanke, wat volgens hom uit duisende lagies moes bestaan het, weggevreet is en die laag net daaronder feitlik geen erosie toon nie, ignoreer hy waarskynlik omdat niemand uit sy geledere dit al ooit as ’n probleem uitgewys het nie.  (Die gladheid of gelykheid van die oorgange tussen rotslae is onversoenbaar met erosie oor miljoene jare.)

·         Die Kaibab-welwing is vir hom ’n probleem, want volgens sy teorie moes die rivier op ’n stadium eintlik opdraand gevloei het, om deur die welwing te kon sny.  Alhoewel ’n paar megajaarverklarings daarvoor bestaan, is hulle almal op die beste hoogs onwaarskynlik.  Tog bly hy glo dat daar ’n realistiese verklaring is wat met sy voorveronderstellings strook – dit is net nog nie gevind nie, of hy is net nie bewus daarvan nie.

·         Netso is die kwessie van te min afgevoerde materiaal in die Stille Oseaan by die uitmonding van die Colorado-rivier of by enige ander nabygeleë plek in die oseaan vir hom ’n probleem, maar hy hoop maar dat ’n antwoord nog sal kom en intussen ignoreer hy die probleem.

 

Die Grand Canyon wys dus dat twee heeltemal verskillende verklaringsmodelle gepostuleer kan word, afhangende van die waarnemer se voorveronderstellings:

·         Die evolusionis en megakronofiel sê bietjie water en miljoene jare.

·         Die skeppingsleerder sê baie water en enkele dae of weke.

 

Ek het my eie voorveronderstelling natuurlik glad nie probeer wegsteek in my beskrywing van bogenoemde twee vertolkingsmoontlikhede nie.  Na my mening is veronderstellings nie verkeerd nie, maar mens moet bereid wees om hulle te erken. 

 

Maar wat van al die ander “bewyse” vir evolusie en miljarde jare?

·         Het radiometriese datering nie miljoene jare bewys nie?

·         Het Biologie nie evolusie bewys nie?

·         Hoe verklaar mens sterre wat miljoene ligjare ver is waarvan ons die lig nou hier kan waarneem as die heelal slegs duisende jare oud is?

·         Het Paleo-antropologie nie bewys dat die mens se voorganger aapagtig was nie?

 

Daar bestaan goed gefundeerde wetenskaplike antwoorde op al bogenoemde en meer vrae, en sterk getuienis dat evolusie en miljoene jare onwaar is.  Hierdie boek hanteer heelwat daarvan en verwys na boeke en webwerwe waar nog baie meer daaroor te vinde is.

 

 

1.5 Kan die wetenskap eenduidig bepaal hoe die 

      oorsprongsmeganisme was?

 

Nee, dit kan nie, want eenmalige gebeurtenisse van die verlede, soos die oorsprong en ontstaan van alles – maak nie saak of iemand in ’n skeppings- of evolusionistiese oorsprong glo nie – se meganisme kan nie wetenskaplik eenduidig bepaal word nie.  Daar is tenminste drie probleme:

·         Die omvang van meeste van die oorsprongskwessies is sodanig dat daar geen manier is waarop dit eksperimenteel herhaal kan word nie.  Hoe sal die evolusionis byvoorbeeld die oerknal eksperi-menteel probeer herhaal?  Ongetwyfeld sal die skeppingsleerder ook nooit eers ’n poging aanwend om die Skepper se spesiale bonatuurlike skeppingsaksies te probeer herhaal nie.

·         Selfs moontlike klein stappies in die ontstaansproses sal nooit ’n wetenskaplike meganisme as eenduidig kan bewys nie (met ander woorde, dit kon op geen ander manier plaasgevind het nie), want selfs al sou die stappie die gewenste produk lewer, is dit nog geensins te sê dat daar nie nog ander meganismes is wat dieselfde produk kan lewer nie.  Die wetenskaplike kan net eenduidigheid verklaar as hy alle ander moontlikhede ondersoek het en hoe sal hy nou ooit weet wat alle ander moontlikhede is?

·         Enige moontlike stap in die ontstaansproses sal altyd gepaardgaan met ’n reeks aannames van toestande wat op daardie stadium moes bestaan het, wat op sigself nie bewysbaar is nie.

 

Bogenoemde beteken nie dat die wetenskap dan nou niks oor die verlede te sê het nie.  ’n Goeie wetenskaplike benadering is om ’n oorsprongs­model daar te stel wat die beste met historiese gegewens ooreenstem en met hedendaagse waarnemings wat na die verlede heenwys.  Die gegewens in die Bybel is vir die skeppingsleerder van kardinale belang.  Dit word aanvaar as die waarheid omdat die Outeur agter die outeurs van die Bybel God self is.  Hy is ook die enigste getuie van wat in die Skeppingsweek gebeur het, buiten natuurlik die bietjie wat Adam en Eva op die sesde en sewende dae waargeneem het.  Die Bybel is dus geheel en al deel van die skeppingsmodel se databasis.  Die tipiese evolusionis se oorsprongsmodel gebruik dieselfde hedendaagse waarnemings as die skeppingsmodel, maar die Bybel se gegewens is vir hom op die beste niks meer werd as enige ander sekulêre geskiedenisgeskrif nie.  Ek toon in hierdie boek aan dat die skeppingsmodel baie beter met die hedendaagse waarnemings klop as die evolusionistiese model.  Daardeur word die Bybel bevestig want die skeppingsmodel is in die eerste plek op die openbarings in die Bybel gegrond.

 

Die skeppingsmodel maak voorsiening vir ’n skepper en ook natuurlike prosesse.  Die skepper is die God van die Bybel en die natuurlike prosesse is deur Hom daargestel.  Die skeppingsmodel sluit dus nie natuurlike prosesse tydens of ná die Skeppingsweek uit nie, maar laat ook spesiale skeppingsaksies toe.  Daarenteen laat die evolusionistiese oorsprongs­model slegs natuurlike prosesse toe.  Sou spesiale skeppings-aksies dus die waarheid wees betreffende sekere kwessies, gaan die evolusionis nooit by die waarheid uitkom ten opsigte van hierdie kwessies nie en gaan baie van sy ondersoeke en ongelooflik kreatiewe (interessante teenstrydige woord in hierdie konteks) teorieë net nooit iets beteken nie. 

 

Verder moet die wetenskaplike, uit ’n suiwer wetenskaplike oogpunt, bereid wees om kritiek op sy model te ondersoek, aanpassings te maak en/of kritiek op die ander model en sy bevindings te lewer.  Skeppingsleerders lewer gereeld kritiek op evolusionistiese artikels en boeke – AiG se ‘Creation’-tydskrif en hul tegniese joernaal ‘TJ’ bespreek evolusionistiese bewerings baie gereeld.  Onderlinge kritiek tussen skeppingsleerders se artikels is ook gereeld in die ‘TJ’ te siene.  Bruikbare kritiek van evolusioniste op skeppingsleerders se artikels is maar yl gesaai.  ’n Paar moontlike redes hiervoor is die volgende:

·         Waarskynlik lees baie min evolusioniste tegniese joernale en tydskrifte wat ’n skeppingsiening het.

·         Sekulêre tegniese joernale weier dikwels om artikels met ’n skeppingsverwysing te publiseer, ondanks hul meriete.  Die bewering dat hulle kwaliteit nie goed genoeg is nie, is meestal onsin, want skeppingsleerders het lankal agtergekom dat hulle artikels wel aanvaar word indien hulle alle skeppingsverwysings en -implikasies verwyder, en indien hulle self nie reeds as skeppingsleerders bekend is nie.  In 10.2 word taamlik op hierdie onderwerp uitgebrei.

·         In enkele gevalle is skeppingsartikels met baie duidelike tydsimplikasies wel wyd genoeg gepubliseer, maar feitlik geen reaksie het gevolg nie.  In daardie gevalle was die billike afleiding om te maak dat daar geen goeie teenargumente was nie.  So ’n voorbeeld, betreffende die ouderdom van steenkool, word in hoofstuk 6 gegee.

·         Algemene kritiek, waar die evolusionis ’n paar skeefgetrekte karikature van skeppingsargumente stel en dit dan afskiet, kom gereeld voor, maar is meestal van geen waarde nie.  ’n Ekstreme voorbeeld hiervan is die bewering dat skeppingsleerders in ’n plat aarde glo, maar daar is darem soms ook kritiek wat bietjie meer om die lyf het.  So terloops, die historikus Jeffrey Russell het aangetoon dat die kerk nooit aan ’n plat aarde geglo het, of gedink het dat dit die implikasie van die vier hoeke van die aarde is waarna in die Bybel verwys word nie.  Slegs ’n paar eksentrieke karakters, yl versprei oor die laaste 20 eeue, het dit verkondig. 

 

[‘Are (biblical) creationists ‘cornered’? – a response to Dr J.P. Moreland’,

TJ 17(3), 2003]

 

 

1.6 Is die werklikheid van Genesis belangrik vir

      die Christelike geloof?

 

Die noodsaaklikheid vir die Christelike geloof om Genesis direk te verstaan en te glo, is onder andere die volgende:

·         Die oorsprong van sonde word in Genesis beskryf.  Daarsonder sou die nodigheid vir ’n Verlosser nie bestaan het nie.  Genesis vorm dus die fondasie vir die Evangelieboodskap.  Ek kom net bietjie verder aan weer terug na hierdie punt.

·         Die basis vir die huwelik tussen een man en een vrou word deur God self gelê in Genesis.

·         God as die almagtige en goeie Skepper word in Genesis geopenbaar.  Indien die werklikhede van die sondeval nie aanvaar word nie, sal dit baie moeilik wees om ’n liefdevolle, goeie God met die rampe en ellendes van die huidige wêreld te versoen.  Talle mense wat probleme met die begrip van ’n liefdevolle God maar ’n wrede wêreld ondervind, aanvaar slegs ’n simboliese vertolking van Genesis.

·         Die ontstaan van verskillende volke en tale, maar net een menslike ras, word in Genesis beskryf.  Genesis maak dit dus duidelik dat rassisme nie ’n geestelike of ’n biologiese basis het nie.

·         Die fisiese voorkoms van die wêreld is in breë trekke verstaanbaar indien die Genesisvloed as werklik en wêreldwyd aanvaar word, soos die Bybel dit beskryf.  Die wonders van die natuur kan as ’n baie sterk heenwysing na God die wonderbaarlike Skepper dien, maar slegs as Genesis as werklikheid aanvaar word.

·         Jesus het self na Genesis as werklike gebeure verwys en die glo daarvan as noodsaaklik beskou.  In Johannes 5:46 en 47 sê Hy:

 

As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het, want hy het van My geskryf.  Maar noudat julle nie glo wat hy geskryf het nie, hoe sal julle My glo?

 

Moses word direk in die Bybel genoem as die skrywer van Eksodus tot Deuteronomium.  Volgens Joodse tradisie is die eerste vyf boeke van die Bybel die ‘Boek van die Wet’, of die ‘Wet van Moses’, of die ‘Wet’, genoem.  Dit is dus redelik om af te lei dat Jesus Genesis sou ingesluit het as Hy na Moses se skrywes verwys het.  Jesus het in ieder geval ook direk na die skeppingsgebeure in Genesis verwys (Mark. 10:6).  Die eerste belofte van ’n komende Verlosser, met ander woorde, daar het Moses reeds van Jesus geskryf, word vroeg in Genesis gegee.  Let ook op Jesus se woorde in Joh. 3:12:

 

Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel?

 

Jesus word in Johannes beskryf as die Woord van God wat van altyd af daar was.  Bogenoemde woorde van Hom kan dus ook na sy woorde in die Bybel verwys, soos deur Moses en die ander skrywers van die Ou-Testamentiese Bybel weergegee.  Dit is dus na my mening redelik om te aanvaar dat Jesus onder andere na die werklikhede van Genesis (die aardse dinge) verwys, wat tenminste geglo moet word alvorens die geestelike (hemelse) geglo kan word.

 

[‘Did Moses really write Genesis?’, Creation 20(4), 1998]  

[J. McDowell, ‘The New Evidence that demands a verdict’, 1999, bl.400]

 

·         Daar is twee pertinente evangelisasiepreke in die Bybel opgeteken.  Die eerste gaan oor Petrus wat net ná die uitstorting van die Heilige Gees die Evangelie van Jesus aan die Joodse godsdienstiges in Jerusalem gebring het.  Hulle was uit verskeie lande rondom Israel tot in Asië en Afrika afkomstig.  Petrus se gehoor het dus geweet dat hy na God die Skepper verwys wanneer hy na God verwys het.  Die tweede preek gaan oor Paulus wat by die Areopagus in Griekeland met die Grieke praat.  Hy begin sy gesprek spesifiek met verwysing na die onbekende god in hulle tempel.  Hy stel daardie god voor as die een wat alles geskep het, en hy stel die God van die Bybel aan hulle voor as daardie Alleenskeppergod.  Daarna lewer hy getuienis van Jesus, sy kruisiging en opstanding en die betekenis daarvan.  Petrus het nie nodig gehad om na Genesis en die skepping te verwys nie – sy gehoor het dit geken en geweet wat sonde was en teen Wie gesondig is.  Paulus se gehoor het daardie basiese agtergrondskennis nie gehad nie.  Daarom moes hy daar begin.  In baie kerke vandag lyk die gehoor meer soos die Grieke as die Jode.  Hulle dink Genesis is net simbolies of glo dit glad nie en dink die mens kan maar self besluit wat reg en wat verkeerd is.  Met so ’n sienswyse help dit nie om Jesus as die Verlosser te predik nie, want die gehoor verstaan nie waarvan hulle verlos moet word nie.  Met ander woorde, Jesus as Verlosser sonder dat die mens besef dat hy voor God geheel en al skuldig is, is sinneloos.  Die werklike boodskap van Genesis is dus essensieel vir die ware Christelike geloof.

 

 

1.7 Is die werklikheid van die Bybel belangrik

      vir die Evangelie?

 

Hoe antwoord die Christen iemand wat sê dat daar tog geen goeie rede is om te glo dat die Christelike godsdiens eerder waar is as van die ander godsdienste nie, want baie godsdienste baseer hul geloof op sogenaamde heilige boeke?  Alle heilige boeke is veronderstel om net die waarheid te bevat, maar sekerlik is dit nie so nie, want hulle is dikwels teenstrydig met mekaar.  Die Bybel verklaar byvoorbeeld dat Jesus Christus die enigste weg na die hemel is en geen mens op grond van sy werke gered kan word nie, terwyl meeste ander godsdienste se redding of heiligmaking op die mens se goeie werke gegrond is. 

 

Dus, hoe kan mens bepaal watter heilige boek eerder waar is?  Baie heilige boeke bevat uitsprake oor die hemel en die hiernamaals, maar dit is moeilik toetsbaar en demonstreerbaar tydens die aardse bestaan.  Baie heilige boeke bevat ook uitsprake oor oorspronge en belangrike aardse gebeure van die verlede.  Dit is wel dikwels tot ’n groot mate toetsbaar deur te kyk na allerlei hedendaagse getuienis wat dit ondersteun of teëspreek.  Sou mens dus kon aantoon dat werklike gebeure wat in die Bybel opgeteken is, ooreenstem met wat vandag waargeneem word, kan sulke feite ’n belangrike rol speel in die aanvaarding van die Bybel as die ware Woord van God en kan dit lei tot ware geloof in die enigste weg na die hemel, Jesus Christus (Joh. 14:6, 1Joh. 5:12). 

 

Sou mens egter die Bybel van werklike gebeure in die verlede probeer ontkoppel, dan word die Christen ontneem van die moontlikheid om die natuur om hom te gebruik om God te verheerlik.  Sodoende word die Bybel ’n klompie verhale met geestelike boodskappe wat netsowel deur mense uitgedink kon gewees het.  In so ’n geval kan ander sogenaamde heilige boeke die waarheid wees, of dalk geen een nie.   

 

[‘Holy Books?’, Creation 26(1), 2003/2004]

 

Kan hedendaagse wonderwerke nie mense van die ware God oortuig nie?  Ja, dit kan sekerlik, maar God stel dit nie as sy algemene metode van evangelisering voor nie.  Dikwels verwag Hy van mense om eenvoudig te vertel wat Hy gedoen het.  Inderdaad verkwalik God mense in sommige gevalle as hulle wonderwerke verwag voor hulle sal glo.  Alle wonderwerke kom in elk geval nie van God af nie, maar kon deur God toegelaat gewees het om mense te beproef (kyk byvoorbeeld na Eks. 7:11 en 12).  Let op die volgende verse in die verband van ander te vertel van God se dade in die verlede:

 

·         Eks. 13:8,9 : En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die HERE aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het. 

En dit moet vir jou as ‘n teken wees op jou hand en ‘n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die HERE in jou mond mag wees; want deur ‘n sterke hand het die HERE jou uit Egipte uitgelei.

·         Deut. 13:1-3 : As ʼn profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ʼn teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.

·         Jos. 4:5-7 : en Josua het vir hulle gesê: Trek uit voor die ark van die HERE julle God tot binne-in die Jordaan, en tel vir julle ʼn klip op, elke man een op sy skouer, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel, sodat dit ʼn teken onder julle kan wees. As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle? moet julle vir hulle sê: Omdat die water van die Jordaan afgekeer is voor die verbondsark van die HERE by sy deurtog deur die Jordaan—die water van die Jordaan is afgekeer; daarom is hierdie klippe as ʼn aandenking vir die kinders van Israel vir altyd.

·         Ps. 78:3-8 : Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,

sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.

Hy tog het ʼn getuienis opgerig in Jakob en ʼn wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, en nie word soos hulle vaders nie, ʼn koppige en wederstrewige geslag, ʼn geslag met ʼn onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.

·         Jon. 1:9 : En hy antwoord hulle: Ek is ʼn Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.

·         Mat. 12:38-40 : Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ʼn teken van U sien.

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ʼn Slegte en owerspelige geslag soek na ʼn teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.

·         Luk. 16:29-31 : Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.

Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.

Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

·         Joh. 3:12 : As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?

·         1 Kor. 1:21-25 : Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; want die Jode vra ʼn teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ʼn struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.

Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

Na my mening is dit baie duidelik dat God van die Jode verwag het om sy groot dade van die verlede as werklikheid aan hulle kinders oor te dra.  Netso moet Jesus se geboorte, lewe, optredes, sterwe en opstanding as werklikheid oorgedra word.  Let op die volgende sterk verklaring deur Paulus dat as die opstanding van Christus nie werklikheid is nie, die geloof nutteloos is:

 

1 Kor. 15:12-20 : As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?

As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.

En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.

Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;

en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.

As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.

 

Die wonderlike is natuurlik dat die fisiese opstanding ook heenwys na die geestelike opstanding tot die ewige lewe, wat deur Christus moontlik gemaak is vir elkeen wat in Hom glo:

 

Joh. 11:25-27 : Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;

en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.

 

Maar nou gaan ek eers terugkeer na die dinge wat God in die fisiese skepping daargestel het.