Hoofblad | Anatomie | Fisiologie | Genetika | Patologie | Voortplanting | Die outeur | Addisionele leesstof | Skakels

Evolusie: ‘n Christengelowige se perspektief — Deel 19

In hierdie laaste aflewering van die huidige reeks wil ek met ‘n laaste paar opmerkings probeer om ‘n baie groot onderwerp af te sluit deur die drie groepe mense in een van die eerste artikels genoem weer te bespreek.

Die eerste groep gryp evolusie met ope arms aan want dit beteken daar is geen God wat die mens tot verantwoording vir verkeerde dade roep nie. Ook hier in ons eie land sien ons die vrug van so ‘n lewensuitkyk: babas wat verkrag en papgeslaan word, mense wat vermoor word ten einde hul liggaamsdele te verkwansel of as muti te gebruik, leiers wat niks voel vir hulle onderdane nie en ‘n breë publiek wat hul al minder aan reëls en regulasies steur. Vir ‘n land waar meer as sewentig persent van die bevolking volgens statistiek Christene is, lyk die prentjie maar baie droewig, want ek sien baie min van die uitlewe van hierdie geloof in die alledaagse omgang.

Die tweede groep erken tog die Bybel as gesag in hul lewe, maar word ontnugter deur die bewyse wat teen die Bybel getuig wat aan hul voorgehou word deur die media. Daar is ‘n groot groep wetenskaplikes onder hierdie groep soos Hugh Ross en Ken Miller wat dan ook probeer om die Bybel aan te pas by die wetenskaplike getuienis. Hierdie is na my mening ‘n baie gevaarlike benadering, want watter gesag moet uiteindelik die meeste gewig dra: die Woord van God of die wetenskap? Van meet af aan was die wetenskaplikes wat die evolusieleer ontwikkel het tog daarop uit om die Bybel verkeerd te bewys. Die humanis met sy ateïstiese benadering juig ook oor elke sogenaamde bewys wat na vore kom uit die evolusiestal.

Vir laasgenoemde groep het ek baie goeie nuus: jy hoef nie alles te glo wat aan jou opgedis word nie. Daar is goeie webblaaie waarop getuienis wat die Bybel ondersteun te lees is, ook is daar ‘n groot klomp literatuur en videomateriaal beskikbaar waarvan die outeurs dieselfde doel voor oë het. Aan die einde van hierdie artikel sal ek ‘n paar webblaaie en boeke lys. ‘n Mens moet jouself ook die vraag vra: is dit wat aan my voorgehou word as getuienis feite, of is dit iemand se interpretasie van die feite? Soos ons in die vorige drie aflewerings gesien het bestaan daar iets soos fossiele, maar die interpretasie van daardie fossiele is die groot knelpunt. Hiermee wil ek nie voorgee dat ons absoluut al die antwoorde het nie, maar na my mening verklaar ‘n Bybelse uitgangspunt waarnemings baie beter as wat die evolusieleer dit ooit kan doen.

Die voorstaanders van evolusie sal telkens die stelling maak dat die wetenskap ons ruimtereise, selfone en digitale televisie gebring het en dat enigiemand wat teen evolusie kapsie maak, ook teen hierdie vooruitgang gekant is. Dit is egter nie die geval nie. Daar moet duidelik onderskeid getref word tussen die herhaalbare wetenskap wat onderliggend is aan elektronika en die historiese wetenskap wat hom besig hou met dit wat in die verlede gebeur het: gebeure wat nie in ‘n laboratorium herhaal kan word nie. Laasgenoemde is onderworpe aan die wêreldbeeld van die waarnemer en moet getoets word aan die hand van alle beskikbare feite.

Die derde groep aanvaar sonder voorbehoud dat die Bybel die geïnspireerde Woord van die Lewende Skeppergod is. Hierdie groep gaan van die veronderstelling uit dat alle beskikbare getuienis geweeg moet word aan die hand van die Bybel en dat dit die hoogste gesag dra. Jesus sê immers dat Hy die Weg, Waarheid en die Lewe is en in die Evangelie van Johannes lees ons dat die Woord aan die begin by God was en dat alle dinge deur Hom ontstaan het. As Jesus dan in Matt 19:4 sê dat God die man en vrou aan die begin geskape het en in Matt 23:35 dat die bloed van Abel die eerste regverdige bloed was wat op aarde gevloei het, kan ons dit gerus glo en so aanvaar as die waarheid. Paulus skryf ook in Rom 5:12 dat die dood ingetree het nadat die mens sonde gepleeg het: daar kon dus nie dood wees voor die sondeval nie.


Hoe Adam en Eva by Maropeng uitgebeeld word. Nie net is hierdie prent godslasterlik nie, maar ook totaal onkorrek uit ‘n paleo-antropologiese oogpunt, maak nie saak hoe mens daarna kyk nie. ‘n Gepaste onderskrif sou veel eerder wees: “Die lelike eendjie en die Ondier”

Die evangelie maak slegs sin gesien in die lig van die sondeval. Het Adam en Eva nie God se gebod oortree nie, was daar geen behoefte aan ‘n Verlosser nie. Dus sou Jesus se dood en opstanding heeltemal onnodig wees indien die gebeure rondom Genesis 3 net fabels afkomstig van die Babiloniërs wees soos wat vandag selfs deur teoloë verkondig word. Dit is die gevaar as mens vanuit die verkeerde gesagsbron na die beskikbare inligting kyk. Dit is dan ook geen wonder dat sommige teoloë nie meer glo in die maagdelike geboorte, soendood en opstanding van ons Verlosser nie: hulle steun eerder op bewyse vanuit sekulêre bronne en probeer allerhande gimnastiese toertjies uitvoer om dit wat in die Bybel staan weg te redeneer.

Op die ou einde kom alles neer op een ding: GELOOF. Hebr 10:38 sê immers: “Maar die regverdige sal deur die geloof lewe…” Hebr 11:6 sê verder: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” Daar is baie aspekte van die natuur wat ek nie kan verklaar nie. Die geweldige afstande van die sterre en getuienis van radio-aktiewe verval is die grootste probleme vir iemand wat glo in ‘n aarde van 6000 jaar oud soos ‘n letterlike verstaan van Genesis duidelik uitspel. Die evolusieleer het egter ook baie probleme met die verklaring van afstande: die teorie van inflasie van die heelal beeld uitsetting uit wat duisende kere vinniger as die spoed van lig was. Dit is vir my egter baie meer rasioneel om die woord van Iemand wat teenwoordig was by die skepping te glo as wat ek die teenstrydige fabels glo van mense wat God ten alle koste uit die prentjie wil probeer haal, of ander wat sy Woord sodanig wil afwater om by hul vertolking van beskikbare getuienis te pas.